Wat staan jou te doen na ‘n motor ongeluk?

Motorongelukke gebeur wanneer jy dit die minste verwag en as jy gelukkig genoeg is om te ontsnap met net ‘n paar stampe en stote, gaan jou lyf steeds in skok in. Dit is wanneer mense dinge begin doen wat hul lewens en selfs moontlike versekeringseise in gevaar kan stel. Dit is krities om jouself toe te rus met die regte inligting en om vertroud te raak met die modus operandi direk na ‘n ongeluk.

Hiermee, ‘n handige stap-vir-stap gids om al die raaiwerk en onsekerheid uit die weg te ruim:

 

  1. Ondersoek jouself en ander passasiers vir beserings:

Indien jy of enige van jou passasiers beseer is, bel die nooddienste. Indien jy nie in staat is om dit te doen nie, kry die hulp van buitestaanders. Moenie geflous word nie; na ‘n ongeluk word adrenalien afgeskei en jou lyf gaan in skok in wat dikwels ernstige beserings kan verberg. Dus is dit altyd beter om mediese aandag te kry – al is dit net vir gemoedsrus.

 

  1. Verwyder die voertuig uit die pad uit:

Indien die voertuig nog kan ry en dit is in die pad van verkeer, beweeg dit na ‘n veiliger area waar dit nie ‘n gevaar vir ander motoriste inhou nie.

 

  1. Ondersoek die ander partye vir beserings:

Wanneer jou voertuig veilig en uit die pad geparkeer is en waar jy ook nie in gevaar is deur jou kar te verlaat nie, klim uit en ondersoek die ander partye wat betrokke was in die ongeluk. Skakel die nooddienste indien nodig.

 

  1. Rapporteer aan die polisie:

Indien dit ‘n ernstige ongeluk was, moet die polisie na die ongelukstoneel ontbied word waar hulle die toneel sal ondersoek en besonderhede van die insident sal dokumenteer. Indien die ongeluk nie te ernstig was nie, sal jy dit steeds by die naaste polisiestasie moet gaan aanmeld. Dit is belangrik om te onthou dat die saak binne 24 uur na die ongeluk aangemeld moet word. Onthou om die saaknommer veilig te bewaar- jy gaan dit nodig hê vir enige versekeringseise.

 

  1. Beoordeel die situasie objektief:

Nadat dit bevestig is dat alle betrokkenes veilig is en al die relevante amptenare op die toneel is, moet die situasie beoordeel word. Ruil relevante inligting uit soos kontak- en versekeringsbesonderhede.  Dieselfde geld vir ooggetuies. Dit is ook baie belangrik om die toneel te dokumenteer deur fotos te neem. Dit kan later as bewyse dien indien nodig.

 

  1. Kontak jou versekeringsdiensverskaffer:

Wanneer jy jou SAPD saaknommer het (of dit op die toneel van die ongeluk of later by die naaste polisiestasie verkry was), is dit tyd om jou versekeringsdiensverskaffer te kontak – direk of deur jou makelaar – en hulle te verwittig van wat gebeur het. Indien jy nie die ongeluk veroorsaak het nie, sal die ander party se versekeraar  verantwoordelikheid wees om die skade te betaal (alhoewel jy steeds moontlik ‘n sekere bedrag sal moet inbetaal). Indien jy die skuldige party was, sal dit jou versekeraar se verantwoordelikheid wees om vir die skade te betaal. Indien daar geen ander partye betrokke was nie en jy het jouself nie skuldig gemaak aan roekelose bestuur nie, sal jou versekeraar die skade betaal (alhoewel jy steeds moontlik ‘n sekere bedrag sal moet inbetaal). Ten einde hierdie proses te begin, is dit nodig om ‘n amptelike eis in te dien. Hierdie eise is ook onderhewig aan tydsbeperkings, dus is dit krities om te verseker dat die eis so gou moontlik ingedien word. Indien nie, kan die eis geweier word.

 

Die proses rakende jou versekeringseis kan verwarrend en uitdagend voorkom. Indien jy ‘n makelaar het sal hy/sy die nodige dokumentasie uitsorteer en jou deur die hele proses lei en help. Die proses is heelwat makliker wanneer jy ‘n kenner aan jou kant het.

Indien jy professionele advies benodig of enige verdere vrae het rakende jou korttermyn versekering, moenie huiwer om APBCO hier te kontak nie.