HOE BEïNVLOED BEURTKRAG MY VERSEKERING?

HOE-BEïNVLOED-BEURTKRAG-MY-VERSEKERING?

Beurtkrag sit Suid-Afrikaners reeds sedert April 2008 liggies af, vandat Eskom begin poog het om die aanvraag op die kragnetwerk te verminder deur die beskikbare kragtoevoer tussen al hul kliënte te roteer. Ten einde die impak op hul daaglikse aktiwiteite tot die minimum te beperk, het individue en besighede hulle tot kragopwekkers, omskakelaars en sonpanele begin wend. Hierdie kragoplossings skep egter nie net ekstra elektrisiteit nie, maar ook meer versekeringshoofpyne, aangesien kliënte onseker is oor die mate waartoe beurtkrag hul versekeringsdekking sal beïnvloed. Hierdie artikel – die eerste van twee oor hierdie onderwerp – sal lig werp op die mees algemene dekkingsbekommernisse oor of hierdie beurtkrag-luukses outomaties deel uitmaak van u gebou- en huisversekering of nié.

Sal my versekering omskakelaars, batterye, kragopwekkers en sonpanele dek?

Volgens die meeste versekeringsmaatskappye, sal kliënte teen beurtkragskade verseker wees indien hulle aan die voorgeskrewe vereistes voldoen. Alle toerusting moet deur ‘n geakkrediteerde diensverskaffer geïnstalleer word (Rooiseël elektrisiën) en ‘n Sertifikaat van Nakoming moet aan u versekeringsmakelaar verskaf word. Indien die versekerings-maatskappy kan bewys dat enige van die bogenoemde nie nagekom is nie, sal gevolglike verliese uitgesluit word.

Omskakelaars wat bìnne geboue gestoor word, kan gedek word onder die afdelings van Brand, Kantoorinhoud of Draagbare Besittings – afhangende van die kliënt se vereistes. Dit moet voldoen aan SANS 10313- en 10142-goedgekeurde vereistes vir beskerming teen weerlig en kragstuwings, met kragstuwingseenhede wat in die verdelingsbord geïnstalleer is. Indien die omskakelaar ‘n permanente toebehoor is, moet die totale versekerde geboubedrag voldoende wees.

Sonpanele word nie afsonderlik verseker nie, dus is hul individuele onderdele waarskynlik ook nie verseker nie. Kliënte moet egter onthou dat enige probleme met die sonpanele self, soos byvoorbeeld die batterye, gewoonlik onder die produk se waarborg gedek word. Indien die sonpanele aan die huis vas is, sal die meeste versekeringsverskaffers dit dek volgens ‘n gespesifiseerde lys van toebehore onder Geboueversekering, en u premies sal daarvolgens bygewerk word. Ongelukkig is sonpanele ook onderhewig aan erge weerstoestande, natuurlike rampe, diefstal en brand, en moet dienooreenkomstig verseker word.

Kragopwekkers moet verseker word onder die afdelings Brand of Draagbare Besittings – afhangende van of hulle vas of draagbaar is. Dit moet beskerm word teen weerstoestande en ten minste 5 meter van die gebou af gestoor word met goeie ventilasie om die koolstofmonoksied-vrystellings te akkommodeer. Oortollige brandstof moet ook in ‘n aparte area gestoor word. Afhangende van die hoeveelheid brandstof, is daar sekere ekstra veiligheidsvereistes waaraan voldoen moet word.

Uiteindelik sal die kwessie of hierdie items onder die afdelings van Geboueversekering of Huishoudelike Inhoud gedek word, daarvan afhang of dit permanente toebehore in u huis of besigheid is, of nié. Die algemene reël is dat, indien dit nie uitval wanneer u huis omgekeer sou word nie, dit onder Geboueversekering gedek moet word, terwyl enigiets wat met ‘n skroewedraaier of voorhamer geskei of verwyder kan word, onder Huishoudelike Inhoud gedek moet word. Dit word sterk aanbeveel dat u u versekeringsmakelaar kontak om u in hierdie verband te adviseer.

Wat gebeur indien daar ‘n kragonderbreking is en my alarm nie werk nie?

Kliënte moet waaksaam wees oor die impak wat beurtkrag op sekuriteitstelsels – byvoorbeeld hekmonitors, kameras of elektriese heinings – het. Rugsteunbatterye met voldoende laaikapasiteit sal die werkstyd van alarmsisteme gedurende beurtkrag verleng – dit is egter nie voordelig vir enige battery om aan gereelde kragonderbrekings onderhewig te wees nie. Alhoewel draadlose sekuriteitsisteme batterye in hul detektors het wat nie deur beurtkrag geaffekteer word nie, bevat die hoofbeheerkas ‘n rugsteunbattery wat nagegaan en onderhou moet word. Batterye het net ‘n sekere lewensduur, en dit word ernstig beïnvloed deur die aantal kere wat dit laai en ontlaai. Tydens Fase 1 beurtkrag het batterye genoeg tyd om te herlaai (ongeveer 4 ure), maar enige hoër fases verminder hierdie tyd en verswak die batterye.

Tydens beurtkrag skep die groot aantal wanfunksionele alarmstelsels ‘n toename in aktiverings, wat gewapende reaksiemaatskappye se vermoë om werklike noodoproepe te hanteer, beïnvloed. Opportunistiese individue sal hierdie geleenthede benut om voordeel te trek uit enige perseel waar sekureit in die gedrang is. Volgens Auto & General, was daar ‘n 40% toename in inbrake gedurende die eerste 16 dae van Januarie 2023 in vergeleke met Januarie 2022. Ander versekeringsmaatskappye het ook ‘n positiewe korrelasie tussen beurtkrag en toenemende misdaad gerapporteer.

Die meeste versekeringsmaatskappye bepaal dat individue en besighede te alle tye hul sekuriteitsalarms moet aktiveer wanneer hul nie op die perseel is nie. Aangesien beurtkrag buite kliënte se beheer is, behoort hulle teoreties nie gepenaliseer te word vir diefstalverwante dekking indien daar by hul eiendom ingebreek word tydens ‘n kragonderbreking nie – tog moet elke geval op sy eie meriete oorweeg word. Kliënte word aangeraai om te verseker dat hul alarmstelsels in ‘n werkende toestand is, dat rugsteunbatterye ten volle funksioneel is tydens beurtkrag, en om by hul onderskeie versekeringsmaatskappye na te gaan wat die spesifikasies is rakende diefstal en inbrake.

Word verlies as gevolg van kragstuwings gedek?

Suid-Afrikaanse korttermynversekeraars het ‘n toename van 60% in eise vir die beskadiging van sensitiewe elektroniese toebehore – as gevolg van kragstuwings – aangemeld. Gevolglik dring die meeste versekeringsmaatskappye tans daarop aan dat kliënte ‘n oorspanningsbeskermingstoestel (SPD), sowel as ander beskermende toerusting – byvoorbeeld brandalarms en isolators – moet installeer indien hulle wou eis vir skade wat deur kragstuwings veroorsaak is.

 

Hierdie skade aan huis- of besigheidsinhoud kan teen addisionele premies gedek word onder die afdelings van Elektroniese Toerusting, Brand, Geboue of Kantoorinhoud.

 

 

Kan ek eis vir skadevergoeding weens beurtkrag?

 

Volgens Santam, is beurtkrag sélf nie ‘n versekerbare gevaar nie. Kliënte wat besighede besit, kan Besigheidsonderbreking by hul dekking voeg, wat voorsiening sal maak vir die verlies aan inkomste weens ‘n voorafbepaalde stel bedreigings. Volgens Van Deventer & Van Deventer Ingelyf (Siviele Litigasie Prokureurs), is daar slegs 3 hoofvoorwaardes waarvolgens individue of besighede skadevergoeding direk van Eskom kan eis:

 

1.      Algemeen

 

Indien verbruikers ‘n direkte kontrak met Eskom het, kan hul direk eis – gebaseer op kontrakbreuk. Die meerderheid verbruikers skaf egter hul elektrisiteit vanaf hul plaaslike munisipaliteite aan, en laasgenoemde kan nie verantwoordelik gehou word nie. 

 

2.      Kontrakbreuk

 

Indien verbruikers ‘n direkte kontrak met Eskom het – wat nie daardie dienste lewer wat in die kontrak gestipuleer word nie – kan hul Eskom dagvaar vir kontrakbreuk. Hierdie voorwaardes sal egter slegs geld indien die verbruiker kan bewys dat die skade die gevolg is van Eskom se nalatigheid in die nakoming van sy verpligtinge.

 

3.      Delik

Delik vind plaas wanneer een party tot ‘n kontrak ‘n oortreding begaan teenoor die ander party tot die kontrak. Dit sluit die volgende elemente in: gedrag, onregmatigheid, skuld, oorsaaklikheid en skade. Indien ‘n verbruiker se eis gegrond is op delik, moet hy/sy eers al die genoemde elemente suksesvol bewys om aan te dui dat Eskom wel verantwoordelik is vir die skade. Daarnà berus die finale skuldigbevinding egter steeds by die Hof, wat elke individuele saak op meriete sal beoordeel.

Dit is noodsaaklik om in gedagte te hou dat die regskostes verbonde aan hierdie verrigtinge heel waarskynlik die geëiste bedrag sal oorskry – dus is dit raadsaam om eerder behoorlik verseker te wees teen moontlike skade.

Ter samevatting

Dit is duidelik dat daar nog lank nie lig aan die einde van die beurtkragtonnel is nie, en dat huishoudings en besighede toenemend gebruik sal maak van alternatiewe energiebronne. Dit verg stewige kapitaalbeleggings, en deur dit behoorlik te verseker teen beurtkrag, natuurrampe en diefstal, sal aan u gemoedsrus gee en potensiële verliese versag wanneer onverwagse stroomonderbrekings toeslaan.

Moenie in die duister gelaat word nie – kontak vandag nog u naaste APBCO-makelaar om te verseker dat u behoorlik verseker is en dat u al die nodige stappe geneem het om u eiendom te beskerm.

*Kyk ook uit vir ons volgende artikel met nuttige versekeringswenke om te oorweeg rakende beurtkrag.